Het jy geweet dat die Eerste 1 000 dae van jou baba se lewe by swangerskap begin en strek tot plus minus die Tweede verjaarsdag? Hierdie is ook die tyd wat jou baba se brein vinniger sal groei en ontwikkel as in enige ander stadium van sy lewe. Sommige opvoedkundiges noem hierdie stadium die “goue tyd”.
Dr David Harrison, hoof van die DG Murray Trust en wat fokus op vroeë kinderontwikkeling is daarvan oortuig dat kinders se toekomstige potensiaal in hierdie “goue tyd” vasgelê word, en dan noem hy ‘n paar feite.
- In die eerste 3 maande vind die meeste breinontwikkeling plaas
- Die tydperk tussen swangerskap en 6 jaar is die tyd wanneer die brein optimaal “buigsaam” is
- Teen die ouderdom van 9 maande is die kind die meeste vatbaar vir taalontwikkeling
- Wanneer jou baba 1 jaar oud is, vind kognitiewe ontwikkeling optimaal plaas
Dus lê dit in ons as ouers se hande of ons hierdie “goue tyd” gaan aangryp en benut, of net laat verbygaan.
Wanneer ons aan vroeë kinderontwikkeling dink, dink ons gewoonlik aan skool, maar dit is veel meer as net skolastiese invloede en word eerder versterk deur die verhouding tussen ‘n mamma en haar ongebore kind waarna dit dan voortduur in die verhoudings wat die baba met geliefdes ontwikkel. Tydens die bou en versterking van hierdie verhoudings sal bepaal word hoe die kind met die wêreld omgaan, of die kind sal floreer in sy groep en uiteindelik sy volle potensiaal bereik. Taalvermoë, kognitiewe buigsaamheid, emosionele welsyn en vele ander karaktereienskappe word deur hierdie verhoudings beínvloed en lê die grondslag vir die res van die kind se lewe.
Hoe gryp ons as ouers hierdie “goue tyd” ten volle aan?
Tydens swangerskap
* Eet gesond * Kry genoeg vars lug in deur stap of matige oefening * Neem genoeg vloeistowwe in soos water * Wees bedag op jou emosionele welstand, jou baba deel dit met jou * Raak ontslae van negatiwiteit, angs en vrese * Gesels met jou ongebore baba * Sing vir jou ongebore baba * Raak gereeld aan jou maag
Van geboorte tot 6 maande
* Jou baba het jou liefdevolle aandag nodig * Reageer gerusstellend op jou baba se kommunikasie * Praat en sing vir jou baba * Jou baba reageer die beste op jou stem, hartklop, aanraking en reuk, hou dus jou baba gereeld vas teen jou lyf * Leer ken jou baba se kommunikasie seine * Soos jou baba ouer raak kan jy jou baba in verskillende posisies plaas want hy raak nou meer beweeglik * Maak seker daar is genoeg tyd vir baba op sy magie * Gesels saam met jou baba in sy brabbeltaal, want dit wys jy gee om
7 tot 12 maande
* Gesels die heeltyd met jou baba * Taalontwikkeling is nou van kardinale belang * Interpreteer en verbaliseer jou baba se aksies * Benoem dít waarna jou baba kyk * Laat jou baba toe om nuwe vaardighede soos sit, kruip en loop aan te leer * Speel “peek-a-boo” vir die voorwerp permanensie vaardigheid * Groet jou baba wanneer jy wegloop of weggaan, dit bou vertroue * Laat jou baba voorwerpe vashou en manupileer en oefen die fynspiertjies van die handjies
1 tot 2 jaar
* En nou gaan jy “ek wil self” daagliks en aanhoudend hoor * Gee leiding om hierdie “self-takies” te doen * Moenie dit vir jou baba doen nie * Laat hulself ontdek * Kyk graag deur prenteboeke en benoem dit wat jul sien * Jy kan veilige hindernisse in jou huis uitsit sodat jou baba probleemoplossing kan toepas en die groot motoriese vaardighede geoefen kan word * Fokus baie op jou baba se emosies * Herhaal gunsteling aktiwiteite * Bly kalm tydens ‘n “tantrum” so sal jou baba vinnig herstel van hierdie oorweldigende emosies * Wanneer jou kind meer as net woorde gesels, gesels in voller sinne met hom * Verwoord jou kind se emosies * Stimuleer jou kind se verbeelding deur rolspel en kostuums * Begin met eenvoudige legkaarte